top of page

Empower
Growth

Search

VAN JONG NAMAKWALANDER TOT SPORTSDIREKTEUR


D Obies

NAMAKWALAND- Vanuit die stille stofvlaktes van Steinkopf in Namakwaland tot die bruisende sportarena van die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), het Elmien Cloete 'n inspirerende pad geloop wat haar onlangs tot die pos van Sportdirekteur by UWK gelei het. Met 'n diepgewortelde liefde vir sport en 'n visie wat bemagtiging en inklusiwiteit bevorder, deel sy haar reis en haar strewe na 'n blywende nalatenskap.


Elmien se passie vir sport is vanaf 'n jong ouderdom in Steinkopf aangewakker, waar sy aan verskeie sportsoorte deelgeneem en provinsiale kleure in atletiek, netbal en vlugbal verwerf het. Passievolle afrigters en 'n familie wat sport koester, het haar geïnspireer om die droom na te streef om 'n LO-onderwyseres te word. Haar eie LO-onderwyseres, Juffrou Wilna Oppel, was 'n besondere rolmodel wie Elmien gemotiveer het om haar volle potensiaal te bereik.


Haar loopbaan het as LO-onderwyser aan twee skole op die Kaapse Vlakte begin, waar sy ook sportprogramme georganiseer en verskeie spanne afgerig het. Hierdie ervarings het haar diepgaande begrip van die impak van sport versterk. Haar oorgang na sportadministrasie het plaasgevind toe sy 'n pos by UWK aanvaar het. Elmien beskryf die rol as uiters vervullend en sê: “Om 'n klein deel van iemand se lewe te wees en dit positief te verander, is ongelooflik rewarding.”


Met haar wortels in Namakwaland het Elmien 'n begeerte ontwikkel om sportontwikkeling in die streek te bevorder. Sy is tans besig om vennootskappe met besighede te ondersoek om die nodige steun vir hierdie droom te werf. Navorsing as 'n instrument vir verandering, 'n kernaspek van haar benadering tot sportadministrasie.


As 'n voormalige atleet, afrigter, sportbestuurder en nou sportleier, het Elmien 'n unieke perspektief wat haar in staat stel om die uitdagings van student-atlete ten volle te verstaan. Elmien is vasberade om sport- en akademiese doelwitte van plaaslike atlete, te help bereik. UWK Sport het reeds talentidentifikasieprogramme in plek, wat belowende atlete 'n beter kans gee om toelating tot die universiteit te verkry.

Akademiese ondersteuning word aan student-atlete gebied, en Elmien beklemtoon die belangrikheid daarvan om 'n balans tussen sport en studies te handhaaf, met akademie as die prioriteit. Gelyke behandeling van alle sportkodes, vir mans én vroue, is 'n belangrike fokus vir haar. Dit sluit toegang tot beurse, moderne fasiliteite, ervare afrigting en wedstryddeelname in. Tog is daar steeds uitdagings, veral in die aantal vroulike gekwalifiseerde afrigters. Programontwikkeling vir meisies- en vrouesport bly vir haar 'n prioriteit.


Elmien erken dat haar reis as 'n vrou in sportadministrasie met geslagsstereotipes en ander struikelblokke gepaard gegaan het. Deur deursettingsvermoë en voorspraak vir inklusiwiteit, het sy hierdie hindernisse oorkom. Haar Meestersgraad in Sport en Ontspanning (Cum Laude) van UWK dien as 'n bewys van haar toewyding tot die veld. As Sportdirekteur is Elmien se benadering holisties en gefokus op die algehele welstand van student-atlete. Haar visie is helder en haar strewe is duidelik: volhoubare, inklusiewe en bemagtigende sportprogramme wat 'n positiewe en blywende impak maak.

 
 
 

Recent Posts

See All

Комментарии


bottom of page