Rolstoelrugby bring energie en eenheid
- plattelander
- Jul 25
- 2 min read
D.Obies
UPINGTON- Rolstoelrugby is 'n internasionaal erkende spansport wat spesifiek ontwerp is vir atlete met gestremdhede wat beide hul boonste en onderste ledemate affekteer. Hierdie sport, wat oor meer as twintig lande praktiseer word, is ook op die Paralimpiese Spele verteenwoordig.
Oorspronklik bekend as "murderball" weens die intensiteit en fisiese aard van die spel, is rolstoelrugby 'n dinamiese en kompeterende sport waar kwadruplegiese atlete in gemengde spanne – insluitend mans en vroue – integrale offensiewe en verdedigende rolle kan vervul. Die wedstryde vind binnenshuis op houtvloere plaas en staan bekend vir hul strategiese sowel as aggressiewe aard.
Vanjaar was die opwindende rolstoel-rugbytoernooi by die Kalahari Mall in Upington vir die vierde keer deur die Vereniging van en vir Persone met Gestremdhede (APD) Benede-Oranje aangebied. Hierdie toernooi dien nie slegs as 'n kompetisie nie, maar ook as geldinsamelingsprojek en bewusmakingsinisiatief om die deelname van mense met gestremdhede aan sport te bevorder.
'n Hoogtepunt van die geleentheid was die bywoning van die Mustang-rolstoelrugbyspan uit Bloemfontein as eregaste. Hierdie span het 'n demonstrasiewedstryd aangebied om die reëls en strategieë van die sport aan die publiek, sowel as die deelnemende spanne, te verduidelik. Daarna het verskeie spanne van plaaslike onder-nemings, organisasies en die APD self meegeding. Hierdie insluiting van nie-gestremde deelnemers het bygedra tot groter samehorigheid en begrip van die uitdagings en vreugdes wat aan rolstoel-rugby verbonde is.
Die ToyRaiders van Upington Toyota, is as die wenspanne van die jaar se toernooi aangewys. Hierdie span bestaan ironies genoeg uit spelers sonder gestremdhede wat vriendskaplik aan die kompetisie deelgeneem het.
Op die tweede en derde plekke het All Security 2 en APD Buffels onderskeidelik geëindig. Ander uitsonderlike deelnemers sluit in Louise de Jonge Fisioterapeute, Upington Elektries, Plastic Packaging 1 en 2, Marais Orthotists, All Security 1, APD Rhinos, Ford Rangers, Wild Bulls, APD Leopards, Pick n Pay, AfriForum en APD Spring-bokke.
Elmarie Hoft, gebiedsdirekteur van APD Benede-Oranje, het genoem dat die organisasie nou oor agt rugbyrolstoele beskik. 'n Span van Benede-Oranje, wat aan al die vereistes voldoen, sal einde Augustus amptelik vir die eerste keer aan die rolstoelrugbyliga in Bloemfontein deelneem. Hierdie geleenthede dra deurgaans by tot die bevordering van inklusiwiteit, sportdeelname en die bewusmaking van mense se vermoëns, ongeag liggaamlike beperking.

ความคิดเห็น