NAMAKWALAND SE BESTE NEEM HUL PLEK IN OP DIE PROVINSIALE PODIUM
- plattelander
- Jul 25
- 2 min read
D.Obies
NAMAKWALAND- Die Namakwaland Rugbyspan het gedurende Junie 2025 besondere trots aan die dag gelê toe hulle hul streek suksesvol tydens die Noordwes Kaap rugbytoernooi uit-eengesit het, wat op die Springbok sportgronde aangebied was. Die span het twee indrukwekkende oorwinnings behaal - in hul eerste wedstryd het hulle met 22–15 teen ZFM Streek geseëvier, en in die tweede wedstryd het hulle oortuigend met 45–17 teen Logan Streek gewen.
Hierdie suksesse dra des te meer gewig, aangesien Namakwaland verlede jaar teen Logan in Calvinia verloor het en ook 'n nederlaag teen dieselfde teenstander op hul tuisveld op Springbok moes verwerk. Hierdie keer het die spelers egter bewys dat hulle bo-aan hoort en het hulle hul posisie as streeks-kampioene bevestig.
Wat hierdie prestasie selfs merk-waardiger maak, is die feit dat die span se eerste gesamentlike oefensessie eers op die koue Vrydagoggend – direk voor die aanvang van die toernooi – plaasgevind het. Nietemin het die afrigtingspan, onder leiding van hoofafrigter Eugena Brits, saam met assistente Rodney Maart en Allan Hoffman, daarin geslaag om die spelers uitstekend voor te berei.
Die Namakwaland-span was saamgestel uit 'n groep jong talentvolle spelers sowel as ervare lede, afkomstig van plaaslike klubs soos Young Stars, Rangers, Nababeep, Desert Daisies, Klipfontein, Marigolds en Black Mountain. Hulle het nie net sportiewe vaardigheid getoon nie, maar was ook 'n toonbeeld van karakter, eenheid en samehorigheid op die veld.
Die sukses van die dag strek egter verder as net die sportgrense—dit was ook 'n organisasietriomf vir die Namakwaland Rugby Streekstruktuur, wat die toernooi suksesvol aangebied het. Die bestuur het opregte dank betuig aan almal wat betrokke was, asook aan die spanne wat lang afstande afgelê het om deel te neem.
Na afloop van die driehoekige toernooi is die volgende spelers gekies om die NOORDWES KAAP (NWK) span te verteenwoordig, wat op 3 Augustus 2025 in Kimberley teen Sentraal sal meeding. Leighton Cloete, Renaldo Ruiter, Brendon Fortuin, Barco Boyes, Alvin Maart, Jean Eyman, Keanan Wentzel, Oscar van Wyk, Eljay Klaase en Henro Diergaardt. Hierdie spelers, wat hul onderskeie klubspanne in die Namakwalandse ligas verteen-woordig, sal nou weer eens hul vurige talent op provinsiale vlak toon.
Die bestuur en afrigters is uitermatig trots op hierdie groep, en wens hul elke sukses toe in hul strewe om Namakwaland se naam en rugbytrots hoog te hou. Hierdie triomf getuig daarvan dat rugby in Namakwaland nie net lewendig is nie, maar ook aanhou groei en gereed is om Namakwaland Rugby na hoogtes lei.

Comentarios